Andre en Gary

Ek (Andre) en ‘n vriend (Gary) het besluit om met bergfietse na Langebaan toe te ry om geld in te samel vir ‘n doel maar watter organisasie sal ons voor ry? So baie mense doen dit vir KANSA en ander meer bekende organisasies. Ons het toe besluit op die SA Gidshondvereniging vir Blindes aangesien die mense nie baie weet daarvan nie. Dus kan ons op diémanier nie net geld insamel nie, maar ook die mense bewus maak van die S A Gidshondvereniging en hulle werk.

image002

So het ek en Gary begin oefen, hy in Langebaan en ek in Pretoria. Hy het die 3de Desember op gevlieg en ons hetdie laaste voorbereidings gedoen vir ons vertrek die 4de Desember. Dit was toegetrek van die mis die oggend wat ons vertrek het, maar gou het die son uitgekom en ons het besef watter hitte vir ons wagoor die volgende twee weke. Ons eerste en enigste papwiel het ek gekry op 80km. Dit was gou reggemaak en was ons weer op die pad.

image004

Alle gastehuise waar ons geslaap het was oorvriendelik en baie behulpsaam met die voorbereiding van die volgende dag se padkos. Baie dankie aan Rubicon Gastehuis in Ventersdorp, Rita’s Gastehuis op Douglas en Prieska Country Lodge vir die verblyf wat hulle gratis aan ons verskaf het.

image006

Die afstand van ons toer het daagliks gewissel tussen 115km en 130km. Die korste afstand per dag was vanaf Clanwilliam na Elandsbaai (65km) en die langste afstand per dag was vanaf Jan Kempsdorp na Douglas (199km). Aangesien ek en Gary sonder enige ondersteuning gery het, het ons alles met ons saamgery. Elke dag het natuurlik sy eie mooi en uitdagings gehad. Ons het gereeld ‘n ongelooflike sonsopkoms gesien en die mooiste landskappe beleef wat mens nie noodwendig in n motor beleef nie aangesien mens te vinnig verby alles jaag. Dit het ons twee net weereens laat besef dat dit wat ons doen die regte ding is. Ons kan sien en dit alles beleef maar blindes kan nie. Ons kon net elke dag ons Hemelse Vader dank vir die voorregte en gesondheid wat ons het om so iets te kan doen. Nie een van ons is meer so jonk nie – Ek 58 en Gary 53.

image008

Ons was ook geseën met die hitte en die reën. Ons het nie eendag reën gekry nie. Daar het wel reën ‘n dag of twee tevore op plekke geval wat die omgewing en die paaie baie afgekoel het. So, van die erge hitte wat ons verwag het, het ook niks gekom nie. Die wind was natuurlik elke dag ‘n faktor, veral die laaste drie dae toe die Kaapse Suidooster sy ding begin doen het. Van die dae wat ons gery het, het ons bitter min voertuie teëgekom en nog minder koeltebome waaronder ons kon rus. Somtyds het ons maar sommer net so in die pad gesit en ons middagetes geniet. Dit was voorwaar ‘n uitdaging en groot was ons vreugde toe ons die einpunt bereik het en ons geliefdes kon vashou. Alle eer kom toe aan ons Almagtige Skepper en Verlosser om my en Gary die gesondheid en krag te gee om dit te kon doen vir ‘n organisasie soos die SA Gidshondvereniging vir Blindes.

One Response to “Andre en Gary”

  1. Michiel van der Merwe January 24, 2014 at 8:54 pm # Reply

    BAIE GELUK weereens met die prestasie! EN met die keuse van gidshonde!!

Leave a Reply